Aksiebelaaide ‘Vuil Wasgoed’ binnekort op die silwerdoek

Vuil Wasgoed, die vollengte film wat onlangs by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai weggestap het met vyf toekennings, word op 8 Desember landwyd in teaters vrygestel.
Wim en Kevin droom al vir jare van hul eie koffiewinkel, maar terwyl hulle wag om dié droom te bewaarheid, werk hulle tydelik in ’n klerewassery. Die probleem is dat ‘tydelik’ sewe jaar geword het en dat die hoogtepunt van hulle bestaan steeds die ‘leen’ van hul kliënte se klere is om snags partytjies te ‘crash‘.

Hierdie stelsel werk goed. Kevin is selfs naby daaraan om die liefde van sy lewe te kry, tot ’n onderduimse juweelhandelaar verraai word, sy vinger afgesny word en dié vinger in ’n baadjiesak by die wassery opeindig. Teen hulle wil word Wim en Kevin in ’n gevaarlike onderwêreld ingesleep. Kort op hulle hakke is twee broers met ’n ‘rash’, ’n blinde handlanger, twee top-polisiebeamptes en ’n ongenaakbare verraaier. En iewers staan ’n skeepsvraghouer met ’n kosbare vrag en wag vir die hele spul om toe te sak.

Vuil Wasgoed se draaiboek is geskryf deur Bennie Fourie, word vervaardig deur Danie Bester, Bennie Fourie en Bouwer Bosch, met Morné Du Toit aan die stuur van die regie. Die rolverdeling sluit onder andere in Bennie Fourie, Bouwer Bosch, Tim Theron, Stiaan Smith, Nico Panagio, Charlie Bouguenon, Simoné Nortmann, Leandie du Randt Bosch en meer.

Vuil Wasgoed het weggestap met toekennings vir Beste Regisseur (Morné du Toit), Beste Redigering (Quinn Lubbe), Beste Akteur (Bennie Fourie), Beste Produksieontwerp (Merishen Wessels) en Beste Klank Ontwerp en Oorspronklike Musiek (Benjamin Willem) by die Silwerskermfees 2017.

Vuil Wasgoed is van 8 Desember landwyd in teaters te sien.

Berig verskaf deur Sterre. Vir nog nuus en artikels, besoek Sterre se webtuiste by sterre.co.za/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?